Bekendstelling
Sylvia Strauss se lewe is ’n stille viering van samesyn. Jy sal haar vind tussen die kleurvolle drade van die lewe – kombuisgeure, blomme, mooi en gedekte tafels is die taal van haar hart.Sy glo onthaal gaan oor meer as kos. Dit gaan oor herinneringe skep, mense bymekaar bring en tafels dek wat stories vertel.
Trouvrou is meer as net ’n naam – dit is ’n leefwyse. Dit is gebore uit ’n liefde vir huis, tafel en die klein dinge wat ’n gewone dag besonders maak. Hier word geglo aan eenvoud met betekenis: kos wat mense bymekaar bring, ruimtes wat warmte uitstraal en oomblikke wat onthou word.
Trouvrou vertel ’n storie van sorg, aandag en samesyn – alles met ’n eg Suid-Afrikaanse hart.
Blomme
Blomme is vir Sylvia ’n kreatiewe uitlaatklep en ’n groot vreugde. Sy skep blommekuns en stileer funksies – van intieme byeenkomste tot groter geleenthede soos troues – altyd met ’n kreatiewe, tydlose gevoel. Elke rangskikking word met sorg saamgestel om die atmosfeer van die dag te ondersteun en iets besonders tot die geleentheid toe te voeg.
Met meer as 17 jaar se ervaring in die trou- en geleentheidsbedryf en meer as 190 troues wat met liefde help vorm is bly elke paartjie se storie vir Trouvrou uniek.
Vir Trouvrou is ’n troue soveel meer as net ’n dag – dit is ’n viering van belofte, liefde en geloof wat in elke blom en detail saamvloei. Met sorg en rustige hande word blomme gekies, dekor gerangskik en ruimtes gevorm sodat elke troue met uniekheid en kreatiwiteit ’n liefdesverhaal vertel.
Boeke
Sylvia is ook ’n kookboekskrywer, met boeke wat diep gewortel is in tradisie, gasvryheid en die vreugde van saam eet. Die resepte is toeganklik en getoets, geskryf vir mense wat lief is vir kos met ’n storie. Deur haar boeke wil sy lesers aanmoedig om stadig te leef, mense om ’n tafel te versamel en herinneringe te skep – een ete op ’n slag.
Die boek Trouvrou het sy pad na reeds 14 000 huise en tafels gevind, iets wat telkens herinner aan hoe sterk die behoefte is aan kos met betekenis en stories wat mense nader aan mekaar bring. Trouvrou Mzanzi is ’n boek in sy eie reg — nie net ’n vertaling nie, maar ’n storie met ’n eie stem en ritme, geskryf vir ’n breër, plaaslike én internasionale gehoor.
En dan is daar Samesyn, ’n nuwe boek wat binnekort sy plek op die rakke sal inneem. ’n Boek wat voortbou op alles waarvoor Trouvrou staan: stadiger leef, oop tafels en die vreugde van saam wees.
