Samesyn is ’n uitnodiging om hartlik te leef en gesellig te wees; om weer opnuut die mooi in die alledaagse raak te sien, om mense by jou tafel te ontvang met ’n oop hart. Dit is nie net ’n resepteboek nie, maar ’n viering van tuiskoms en warmte – ’n versameling eenvoudige geheime wat ’n huis in ’n tuiste omskep.
Van oggendlig op die stoep en middagmaal onder bome, tot vuurwarm kuiers voor die kaggel en sielskos teen sonsonder in die Karoo – hierdie bladsye dra die ritme van saamwees: die rustige kom sit, die luister, die deel.
Tussen die resepte leef vyf hartsafdelings – Huislikheid, Tafelstories, Blommekuns, Gasvryheid en Feesviering – wat jou aanmoedig om jou huis met sorg te vorm, jou tafel met bewustheid te dek, jou hart opreg te gee en jou dae met herinnering te vul. Hier word die alledaagse weer besonders, en die kleinste gebaar die hartklop van liefde.
Vir diegene wat Trouvrou liefgehad het, is hierdie boek die voortgaande verhaal – ’n verdieping van hart, tafel en huis. Hier word brood gebreek en stories tydsaam gedeel; stilte en lag word ewe welkom geheet. Mag hierdie boek ’n warm lig laat brand in jou kombuis, jou eetkamer en jou binnekamer; mag die herinneringe jou hart verwarm en mag dit gewone dae laat ontvou met beloftes vol mooi.
Want waar brood gedeel word, word ons weer gevind en saamgebind – in samesyn.
Met sy 312 volkleurbladsye in ’n ruim 28 cm x 21 cm sagtebandformaat, bevat Samesyn 109 resepte en meer as 150 pragtige volkleurfoto’s wat elke bladsy tot lewe bring. Die boek is verdeel in vyf deurdagte hoofstukke wat jou stap vir stap begelei in die basiese beginsels van tafeldek, blommerangskikking, gasvryheid, feesviering en die kuns om ’n huis mooi en huislik te maak. Interaktiewe QR-kodes neem jou verder as die bladsye en lei jou na video’s wat inspirasie en praktiese leiding bied.
Samesyn is landswyd beskikbaar in boekwinkels en ook aanlyn in ons winkel. Vir groothandelnavrae kan jy ’n e-pos stuur na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..
