Die platteland was my speelplek; die grondgebied waar ek as kind gevorm is. Dis hier waar die paaie nie na ’n restaurant lei nie, maar na ’n buurvrou se stoep of ’n tafel vol borde en stories.

Onthaal gebeur by die huis sonder voorgee, met liefde en met oorvloed.

Varsgebakte koekies warm uit die oond, ’n vuur wat gesellig knetter en hande wat help sonder om te vra. Dis hier waar ek geleer het dat gasvryheid nie ’n gebeurtenis is nie, maar ’n manier van leef: om mense in te nooi, saam te eet en in mekaar se lief en leed te deel.

Oor die jare het ek baie feesvieringe help reël. As geleentheidstilis was ek deel van 190 troues en baie partytjies. Tafeldek het nie ’n vaardigheid geword nie, maar ’n taal wat ek eintlik al van kleins af praat. Ek onthou hoe ek as vierjarige, deeglik en toegewyd, met lyntjiespapier en rooi bloemistelint my eie verjaarsdag-uitnodigings gemaak het. Ek het selfs my ouers se huweliksherdenking by my ouma se huis beplan toe ek skaars in die skool was.

Ek onthou my eerste tafel
my eerste onthaal
my eerste samesyn

Trouvrou het as ’n resepteboek verskyn – dít was egter die begin van ’n groter verhaal: ’n eerste fluistering van wat ’n tafel kan wees;
hoe kos die hart kan nooi
en hoe ’n huis ’n plek van lewe kan word.

Met Samesyn groei daardie fluistering tot ’n volwaardige stem. Die volle verhaal – ’n toevlugsoord.

Hierdie boek het lank in my geleef, ’n mengsel van huis, tafel, blomme, kuier en mense. Ek het geweet hulle hoort saam, maar was nie seker hoe hierdie stukkies pas nie – tot een oggend, net voor wakkerwordtyd en Vader die opdrag klokhelder gee:

Noem dit Samesyn.
Laat dit in die Karoo wees.
Leef dit.
En, ja, daar moet steeds resepte wees.

Jý sit vandag met die vrug van daardie oggend se heilige opdrag in jou hande.

Dít is die hart van samesyn:
nie om te beïndruk nie, maar om plek te maak;
nie om vol te lyk nie, maar om oop te wees;
nie om mooi te vertoon nie, maar om liefde oor te dra.

Algemene Navrae:

info@trouvrou.co.za
071 538 8731